DIE TERUGKEER VAN DIE RAPPORT-TOER IS ’N KEERPUNT VIR FIETSRY IN SUID-AFRIKA

July 18, 2020

Andrew Mclean, ’n bekende in fietsrykringe, glo die terugkeer van die Rapport-Toer van 7-11 Maart 2021 is uiters belangrik vir sport in Suid-Afrika.

“Dit sal dadelik die grootste fietstoer in die land wees en sal internasionale erkenning geniet danksy die sterk handelsnaam wat Rapport oor etlike jare hiervoor gevestig het,” sê Mclean, wat drie keer die Giro del Capo gewen het.

“Die tydsberekening is goed vir buitelandse spanne en die wisselkoers sal tot hul voordeel strek. Tesame met die pragtige landskap waarbinne dit plaasvind, sal dit nie moeilik wees om uitmuntende internasionale ryers te lok nie.

“Ek kan nie wag om te sien hoe beelde van ons pragtige land regoor die wêreld uitgesaai word danksy die bemarkingsplatform wat die toer sal skep nie.”

Hy steun die plan om die laaste skof in Kaapstad te hou. “Dit is ’n uitdagende toer met twee moeilike bergpasse op die skofte in die Boland voordat die toer na Kaapstad afsit. Die Moederstad is die perfekte plek vir die grand finale en die wenners sal eers in die laaste paar kilometer van die toer duidelik word.”

Skofte wat bo-op berge eindig (dit geld drie van die toerskofte) skep groot drama en opwinding vir die ryers én toeskouers.

Voor die laaste skof tot bo-op Seinheuwel sal ryers eers die Du Toitskloofpas (van albei kante), die Bainskloofpas, die Franschhoekpas en die klim na die Taalmonument in die Paarl moet takel.

Mclean meen die Rapport-Toer, wat deur Fietsry Suid-Afrika en die Wêreldfietsryunie (UCI) onderskryf word, kan ’n groot internasionale toer word wat van die wêreld se topspanne lok.

“Dit hou potensiaal in om ’n ongelooflike geleentheid te word wat topspanne van regoor die wêreld lok, soortgelyk aan die Tour Down Under in Australië.

“Die bemarkings- en toerismewaarde van die Tour Down Under is alombekend en die Rapport-Toer kan dieselfde waarde vir die Wes-Kaap bied.

“Van die land se bekendste bergpasse is in die Wes-Kaap en die formaat neem ryers deur asemrowende natuurskoon.”

Die 2021-toer begin in die Paarl en vat deelnemers oor ’n tydperk van vier dae oor al die bekende bergpasse in die Boland. Die tydtoets uit teen Seinheuwel in Kaapstad is die vyfde en laaste skof.

UITGEREIK DEUR HECTIC PROMOTIONS (NPC)

    Leave a comment