DIE BEROEMDE RAPPORT-TOER IS TERUG!

August 2, 2020

Die beroemde Rapport-toer keer van 7-11 Maart 2021 terug na die wêreldfietsryverhoog. Dit sal die kollig plaas op die natuurskoon van die Wes-Kaap, Suid-Afrika as toeristebestemming en die gasvryheid van die reënboognasie.

Dié padfietswedren is die laaste keer in 2000 aangebied en keer in 2021 terug as ’n vyfskof-resies in die Wes-Kaap.

“Die toer val saam met Rapport se vyftigste verjaardagvieringe en sluit die Rapport Classic in, ’n eendag-pretresies oor 60 km en 115 km waarvoor die publiek kan inskryf. Dié resies vind rondom die Paarl plaas op 7 Maart, die eerste dag van die toer,” sê Mauritz Meyer van Hectic Promotions, die nie-winsgewende organisasie wat die toer aanbied.

“Dit gee aan almal die geleentheid om op hul fietse te klim en om die terugkeer van die toer te vier. Ons is baie opgewonde en sien uit na die toer.”

Die Rapport-toer is in sy eerste gedaante van 1973 tot 2000 aangebied en die terugkeer van dié resies beloof om baie herinneringe en emosie onder Suid-Afrikaanse sportgeesdriftiges te ontlok. Dit word tot vandag as Suid-Afrika se voorste internasionale toer beskou.

Die 2021-toer se eerste vier skofte vind in die Kaapse Wynland plaas en die laaste skof is ’n tydtoets in Kaapstad.

Die skofte:

7 Maart 2021: Skof 1 (122 km): Dié skof vat ryers om die Paarl op pad na Malmesbury, daarna na Durbanville en terug Paarl toe op die Suid Agter-Paarl Pad.

8 Maart 2021: Skof 2 (130 km): Dié skof neem ryers van die Paarl na Wellington, Hermon, Malmesbury en terug Paarl toe om by Van Riebeeckstraat klaar te maak.

9 Maart 2021: Skof 3 (156 km): Dié skof strek van die Paarl tot in Franschhoek oor die Franschhoekpas deur Villiersdorp en Rawsonville en terug Paarl toe oor die Du Toitskloof-pas en eindig bo-op dié pas.

10 Maart 2021: Skof 4 (136 km): Dit begin in die Paarl op teen die Du Toitskloof-pas en links deur die Slanghoekvallei terug na die Paarl deur Bainskloof en Wellington. Die skof eindig by die Afrikaanse Taalmonument.

11 Maart 2021: Skof 5 (6 km): ‘n Opdraande tydtoets na Seinheuwel in Kaapstad om aan toeskouers die geleentheid te gee om die finale skof behoorlik te kan sien.

“Die laaste skof in Kaapstad vind plaas twee dae voor die Kaapse Fietstoer en ons glo daar sal soveel toeskouers wees as wat die Covid-regulasies toelaat. Ons het dit in gedagte gehou met die beplanning van dié skof en toeskouers sal waarskynlik van bo tot onder staan,” sê Meyer.

Plaaslike en internasionale ryers sal aan die Rapport-toer deelneem.

Die toer sal wyd gevolg word danksy wesenlike mediadekking op verskeie platforms, met veral Rapport wat groot blootstelling sal gee.

Die Rapport-toer word in samewerking met die Wêreldfietsryunie (UCI) aangebied en verskeie internasionale ryers het reeds aangedui dat hulle wil deelneem. Hul deelname sal afhang van die Covid-19-regulasies.

Slegs plaaslike ryers sal aan die toer deelneem sou daar steeds internasionale reisbeperkings wees.

UITGEREIK DEUR HECTIC PROMOTIONS (NPC)

    Leave a comment